Contact Us

Deeltitel Dames

Deeltitel Dames

Project Description

Neem vier uiteenlopende vroue en gooi hulle saam in een deel-titelkompleks. Roer ‘n vleispaleis van ‘n gym-instrukteur by, tesame met ‘n paplepel vol unieke Suid-Afrikaanse geursel. Voeg hope fyn- (soms grof!) gemaalde komedie en rissiepit drama daarby en wag vir die mengsel om kookpunt te bereik. Bedien met ‘n vet dosis fisiese komedie en ‘n tikkie styl (wel, soortvan) en kyk hoe die mense terugkom vir nog.

Saterdae aande gaan nooit weer dieselfde wees nie. Nie nadat Issie (laf, lomp en lus), seksie Bubu (nee, nie familie van Boeboe van Vetkoekpaleis nie, maar daar’s tog iets… dalk die manier hoe sy haar gatjie swaai…), die perfekte Renate-Elise (‘n Boere weergawe van Desperate Housewives se “Brie”) en May (‘n sielkundige met probleme) ‘n draai in jou sitkamer gemaak het nie.
Onder normale omstandighede sou ons vier Dames heel moontlik nooit vriendinne geword het nie, maar die deeltitelkompleks (kompleet met winkels, restaurante en natuurlik die gym) is maar net ‘n moderne manier van “laer trek”. ‘n Mini-voorstad in die middel van die Kaapse metropool.

Aanvanklik laat net een ding die vier dames soos mosbolletjies saamkoek – die pragtige gespierde Theo(ruan… . Die man se sweetsessies bring die vrouens bymekaar, maar vorm ook die basis waarop hul vriendskap ontwikkel.

Issie Vermaak (Anthea Thompson) is geskei, manies energiek en die wêreld se swakste eiendomsagent, hoofsaaklik omdat sy hopeloos te eerlik is. Sy sal dus aan ‘n voornemende koper wys waar die vorige eienaar se vrou hom voor die stoof afgemaai het, en dan die goeie verfwerk wat die bloedkolle verdoesel, prys. Issie is altyd aan die hol, uiters ongekoördineerd en lomp, as daar iets is om in vas te loop sal Issie dit regkry. Sy’s mal oor sing – uit volle borste, soos sy sal sê. Issie is komies, chaoties, vol glans en wanbalans. Maar ons is baie lief vir haar, Shame.

Renate-Elise (Christel van den Berg) is Mevrou eksie-perfeksie, perfekte gesig, perfekte lyf, perfekte man, perfekte lewe. As ‘n voormalige skoonheidskoningin (o.m. Tietiesbaai se Kreefkoningin, Sasolburg se Scrapdealersprinses, noem maar op, sy het die Titel) en getroud met ‘n welgestelde plastiese sjirurg, Derek (Marcel van Heerden) sou mens dink sy verdien nie vriendinne nie, maar haar blonderigheid en naïewe eerlikheid maak haar juis sjarmant en amusant. Tot Derek se dogter uit sy vorige huwelik haar verskyning maak… Moenie daai episode misloop nie!

Bubu (Lele Ledwaba) is ‘n aspirant aktrise. Die feit dat sy nog nie een rol losgeslaan het nie, nie eers die poedel in ‘n hondekos-advertensie nie, spin haar min. Sy sien haarself as die volgende Charlize Theron, tot so ‘n mate dat sy gereeld tantrums gooi (veral in publieke plekke) in ‘n poging dat ‘n agent haar moet raaksien – soos wat met onse Charlize gebeur het. Bubu is helaas nie ‘n watwonderse aktrise nie, maar dit keer haar nie om haar vloermoere gereeld te repeteer nie. Hoewel sy oppervlakkig voorkom, is Bubu sag van aard met ‘n yslike groot hart en sal sy hand en tand vir ‘n vriendin veg – veral as sy die plaaslike skinderblad ‘Hush-Hush’ kan haal.

May September (Denise Newman) is ‘n kinder-sielkundige van beroep en praat gevolglik soms met haar vriende asof hulle agt jaar oud is. Sy het ‘n boek oor die onderwerp geskryf en is baie trots op “Soek jou stoute plekkie”. Tot haar ergernis dink sommige mense dat dit pornografies van aard is. May is warm en gemoedelik, maar moenie haar ex-man, Denzel (Cedwin Joel) naby haar bring nie. Sy sal die man van ‘n kant uitvreet oor sy jong aanhangsels, maar eintlik het sy ‘n sagte plekkie vir die ou skirmunkel. Die ironie is dat May se raad altyd werk – behalwe vir haarself.

Met gasspelers soos Waldemar Schultz (van 7de laan faam), Lily Slapstilly (In die rol van Flossie de Klossie) en Brad Pitt – (hy kom glo in om ‘n moesie af te brand – sowaar!) kan jy nie die reeks misloop nie.
Deur die loop van die reeks sal ons die vier dames leer lief kry, saam met hulle lag en huil, met hulle identifiseer en langs die pad ook ‘n belangrike lewensles leer – die lewe gaan daaroor om ander se laste te deel – en seker te maak hulle deel joune! Geniet.

Deeltitel Dames is geskep en vervaardig deur Roberta Durrant van Penguin Films, die draaiboeke is geskryf deur Charles Fourie en Hein Eksteen, en die regie is behartig deur Helene Truter.

Project Details

Tags: TV

Location: Cape Town

Director: Helene Truter

Production Company: Penguin Films

Episodes: 13

Seasons: 1

Year: 2010

Back to Top